PA SE DOELTREFFENDE BANGMAAK TAKTIEK

Dit was die jaar 1952. Ons was weer eens uitgenooi om die komende naweek te gaan kuier by die familie Ippel. Ma was in verwagting van Paul wat sy opwagting sou maak in september 1953. Dit was weereens baie warm. Hennie was die paar dae voor die naweek vol draadwerk (lastig). Hy kon nie sy draai kry nie en het my gereeld geterg en gepes want ek het nuwe comics gekry van 'n skool vriendin en ek wou nie met hom deel nie. Tipies seuns gedrag, hulle bly maar altyd kleuters, want hulle gooi hulle speelgoed uit die doos (bokkig) as hulle nie hulle sin kry nie.

Die naweek het aangebreek en Pa was die saterdagoggend flink uit die vere om die kar te was voor ons vertrek. Hennie was nog steeds moerig en wou nie vir Pa help nie. Pa het my geroep of ek hom wil kom help. "Okay Pa, ek kom". Pa het 'n plan beraam om Hennie te kortwiek met sy moerigheid. Pa het in my oor gefluister wat hy sou doen. Ek het gedink dit was 'n briljante plan en het beloof om saam te speel en swyg soos die graf.

Dit was nou tyd om die langpad te vat (vertrekken) na Pretoria. Die kar het lekker gery nadat Pa dit laat diens het (service). Hennie het nog steeds aangehou met sy jakkalstreke en self toe Pa hom gemaan het om op te hou het dit nie veel gehelp nie. Selfs Ma se pogings het nie veel gehelp nie.

Pa het nou regtig genoeg gehad van die nonsens van ouboet. Pa het 'n plekkie gesoek om stil te hou om Hennie te waarsku om op te hou of Pa sou hom na die "Lucifer's Gesticht" bring waar hulle spoedig afreken met stout kinders. Hennie het effens bedaar en gevra: "Wat is die "Lucifer's Gesticht" Pa ? Pa het geantwoord: "Daar worden ongehoorsamen kinderen gebracht die niet na hun ouders willen luisteren, en daar word je de hele week opgesloten en krijg je alleen water en droog brood." Hennie het bleek geword en stil gebly. Toe sê Ma: "Jan, hou op met dat gedonder, anders krijg die jongen nog nachtmerries". Toe sê Pa: "Nee, Catrien hy moet luisteren als ik iets verbiedt." Ma het toe maar verder niks gesê nie. Vir 'n hele rukkie was alles doodstil in die kar..Hennie het die kat uit die boom gekyk en gedink Pa se dreigement was nie ernstig nie. Nie lank daarna het hy weer met sy streke begin. Na sowat 15 km. het Pa skielik die afrit geneem in die rigting van die "Pretoriaanse Sentrale Gevangenis".

Verteld door Anneke Hekelaar
a.hekelaar@gmail.com